Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Raad vir private hoër onderwys gestig

Gepubliseer op: 7 Februarie 2017

’n Raad vir private hoëronderwysinstellings is verlede week gestig om dié sektor se gehalte en posisionering in die land te verbeter.

Luidens ’n verklaring van SA Private Higher Education (SAPHE) wil die raad openbare bewustheid oor die private hoëronderwyssektor skep en hoër onderwys toegankliker maak. “Die raad gaan ook verseker dat die publiek ’ n beter begrip het van die opsies van gehalteonderrig buite openbare universiteite,” lui die verklaring.

Volgens Piet le Roux, akademiese hoof van Akademia, Solidariteit se instelling vir hoër onderwys, is hoër onderwys in Suid-Afrika in ’ n krisis. “Die krisis kan slegs met die inisiatief van gemeenskappe en die sakesektor opgelos word en nie met belastinggeld nie.”

Le Roux sê Akademia onder- steun die oogmerke van die SAPHE. “Ons het reeds verlede jaar by die groep in sy informele fase betrokke geraak en sal vanjaar die moontlikheid van ’n formele aansluiting verder voer,” sê Le Roux.

Dr. Felicity Coughlan, voorsitter van die SAPHE, sê in die verklaring die term “private universiteite” het die laaste paar maande taamlik gewild begin word. “Verskeie mense is wel nie bewus daarvan dat die private onderwysinstellings wetlik nie na hulself as private universiteite mag verwys nie en daarom is verskeie voornemende studente nie bewus van die hoëgehaltekwalifikasies wat by gerespekteerde private instellings verwerf kan word nie,” sê Coughlan.

Volgens Le Roux sal ’ n sterker private hoëronderwysstelsel die toelatingsdruk op openbare hoëronderwysinstellings verlig, asook die druk op die staatskas. “Die ontstaan van formele plaaslike private hoëronderwysliggame is ’n belangrike stap om die regulatoriese, praktiese en finansiële uitdagings agter die huidige krisis die hoof te bied. Dit is alles in die belang van die universiteitswese in Suid-Afrika in die geheel,” sê Le Roux.

Volgens Le Roux is Akademia oortuig daarvan dat die private gemeenskapsinisiatief “onmis- baar is vir die voortsetting van Afrikaanse hoëronderwys”.

“Dit is ’n inisiatief wat in noue samewerking met ander private instellings van enige taal, plaaslik en internasionaal, gaan moet plaasvind.”

Ander instellings wat deel van die SAPHE is, sluit in The Independent Institute of Education (Varsity College, Rosebank College, Vega, Design School SA en The Business School by Varsity College), Monash, Da Vinci, Boston, Milpark Business School, Southern Business School, die International Hotel School, Aros, St. Augustine, Afda en Inscape.

– Hannes Kruger

Hierdie artikel het oorspronklik op 31 Januarie 2017 op Netwerk24 verskyn.