Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Geen uitdaging te groot om gehalte onderrig vir dowe te verwesenlik

Gepubliseer op: 9 Junie 2017

Waar daar ʼn wil is, is daar ʼn weg. Akademia het ʼn weg gevind om dit vir ʼn gehoorgestremde student, Jean-Mari Cornelius, moontlik te maak om eersteklas hoër opleiding en opvoeding te ontvang, ten spyte van uitdagings.

Jean-Mari het aan die De la Bat Skool vir Dowes in Worcester gematrikuleer en in 1997 vir haar LLB-graad by Stellenbosch Universiteit ingeskryf, maar nie die kursus voltooi nie. Sy het daarna die finansiële arbeidsmark betree, maar altyd die droom om haar graad te voltooi, gekoester.

Elzette le Roux, Programbestuurder van die BCom Ekonomie en Regte en een van Jean-Mari se dosente, verduidelik dat Jean-Mari verlede jaar by Akademia ingeloer het om te sien hoe die leermodel werk en of sy as gehoorgestremde steeds kan studeer, voordat sy vir die BCom Ekonomie en Regte-graad ingeskryf het. Die aanvanklike plan was dat sy tydens die kontaksessies die dosent se lippe sou lees. Die tegniese stelsel was egter nog nie teen kontaksessie 1 behoorlik opgradeer nie, sodat lewendige kontaksessies nie uitgesaai kon word nie en Jean-Mari dus nie haar dosente se lippe kon lees nie.

“Ek het hierdie uitdaging eerder as ‘n geleentheid beskou en net geweier dat sodanige tegnologiese uitdaging in die pad van ‘n student se toekoms sal staan,” verduidelik Elzette. “Nie seker waar om na ‘n oplossing te begin soek nie, het ek ondersoek ingestel na verskeie klank-na-teks-toepassings en sagteware. Die uitdaging is natuurlik dat Afrikaans nie behoorlik van klank na teks omgeskakel kan word nie. Dit was dus nie ‘n opsie nie. Een van my kollegas het my toe op die spoor van ʼn gebaretaaltolk, Thelma Kotzé, geplaas. Thelma het dadelik ingestem om ons met die tolking van die kontaksessies by te staan.”

Casper Labuschagne, wat die tegniese sy van Jean-Mari se klasse behartig, sê dis vir hom ʼn eer om Jean-Mari se studies by Akademia te vergemaklik. Hy skryf die sukses van die opnames grootliks aan Thelma se groot vaardigheid en talent toe. “Ek en die oudiovisuele span verwerk die klasopnames tot die finale video wat aan alle studente beskikbaar is. Daarna kom maak Thelma ʼn draai in ons ateljee. Terwyl sy voor die kamera en ʼn skerm sit, speel die video voor haar af, sy word opgeneem en ná die video-opnames gemaak is, sinkroniseer ek dit met die bestaande video’s.”

Gedurende haar jare in die arbeidsmark het Jean-Mari as ʼn dowe op ʼn daaglikse basis verskeie struikelblokke ervaar. Haar sterk persoonlikheid het dit vir haar moontlik gemaak om die meeste van hierdie struikelblokke uit die weg te ruim, maar talle ander dowes oorbrug hul daaglikse uitdagings moeiliker. Daarom wil Jean-Mari met haar BCom-kwalifikasie ʼn regskliniek oopmaak waar sy basiese finansiële en regsadvies deur middel van gebaretaal kan bied.

“Soos ek ouer word en terugkyk, sien ek steeds die behoeftes van die dowe gemeenskap en dat die stryd werklik is. Dit motiveer my om vol te hou, sodat ek die hulp kan bied waarop die dowe gemeenskap al jare wag.”

Volgens Elzette is die grootste uitdagings tans, en vir die nabye toekoms, Akademia as nie-winsgewende hoër onderwysinstelling se beperkte begroting om voort te gaan met die tolkings, asook kapasiteit aan die kant van Afrikaanse gebaretaaltolke.

“Myns insiens is dit egter nie onoorkombare uitdagings nie en moet dit eerder as geleenthede in plaas van hindernisse beskou word. Dis ‘n fantastiese geleentheid wat ons en ander het om werklik ‘n verskil in mense van ons gemeenskap, natuurlik veral die dowe gemeenskap, se lewens te maak. ‘n Student wat andersins nie in haar moedertaal, Afrikaans, kon studeer nie, kry nou die geleentheid om dit wel te doen. Nie net in haar moedertaal as Afrikaans nie, maar ook in gebaretaal. ‘n Fantastiese manier om enige hindernis wat ‘n gestremdheid moontlik kan bied, die hok te slaan.”

Akademia doen ʼn beroep op die gemeenskap om deel te word van hierdie projek. Help Akademia met befondsing om nie net ‘n verskil in een gehoorgestremde student se lewe te maak nie, maar om ook deure vir die groter gemeenskap van dowes oop te sluit. Skep saam hoop en bou aan Akademia, waar studente eersteklas hoër opleiding en opvoeding kan ontvang sonder dat gestremdhede in die pad daarvan moet staan.

Kyk na ‘n video van Thelma wat ‘n klas in gebaretaal vertolk.