Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia-opedag rigtingaanwyser vir talle voornemende Fonties

Die jaarlikse Akademia-kampusopedag is soveel meer as net ʼn inligtingsdag vir skoolverlaters – dit verteenwoordig die begin van ʼn studiereis sonder gelyke! Só sê Lizán Maree, bestuurder: Studentewerwing aan Akademia.

Tydens vanjaar se opedag het meer as 1 200 besoekers (ouers, vriende en voornemende studente) agter die spreekwoordelike kampusgordyn kom loer om meer uit te vind oor die instelling se studiemoontlikhede en studentwees – in Afrikaans, vir 2024.

“Die opedag is ʼn opwindende ontdekkingstog waartydens voornemende studente, wat oorweeg om hul studiereis by Akademia te begin, die geleentheid gehad het om meer uit te vind oor studiegeleenthede, finansiële ondersteuning, koshuisverblyf en die instelling se unieke studentweeservaring. Ons harte swel van trots om vanjaar soveel mense te kon verwelkom wat Afrikaanse hoëronderwys ter harte neem,” sê Maree.

Tydens die opedag het voornemende studente die geleentheid gehad om hul toekomstige-dosente te ontmoet, meer te leer oor die beskikbare kwalifikasies wat deur Akademia se vyf fakulteite aangebied word, en kon hulle met huidige studente gesels oor dié se ervaringe binne en buite die lesinglokaal. Laasgenoemde is belangrik, en Maree verduidelik dat ʼn dinamiese studentelewe ʼn kardinale deel uit maak van ʼn Fontie (ʼn Akademia-student) se studiereis. In en deur die instelling se bruisende studentelewe word hegte gemeenskappe gevorm terwyl daar terselfdertyd vorm gegee word aan ideale en drome.

Die opedagprogram het ʼn verskeidenheid van kundige sprekers ingesluit. Marthinus Visser, Akademia se besturende direkteur, het van die geleentheid gebruik gemaak om die instelling se bestaansrede en gepaardgaande strewe voor te hou, naamlik om ʼn akademiese tuiste daar te stel waar Myrtle Endley, die studenteraadsvoorsitter, het op haar beurt die pionierskarakter van die instelling beskryf en voornemende studente uitgedaag om die volgende hoofstuk in hul lewensreis, naamlik naskoolse studies, met ywer en doelgerigtheid aan te pak.

Behalwe vir ʼn groot verskeidenheid inligtingstalletjies het voornemende studente ook die geleentheid gehad om Akademia se koshuise, naamlik Huis Valorem, Huis Strelitzia en Huis Hennops, te besoek.

“Ons wil graag hê dat voornemende studente ná die opedag rustigheid in hul hart sal hê oor hul studiekeuses en inskakeling by die Akademia-familie,” sê Maree en nooi alle belangstellendes wat nié die geleentheid kon bywoon nie om met die studentewerwingspan in aanraking te kom. Klik hier om ʼn afspraak vir ʼn konsultasiesessie te versoek.

Gaste kon tydens die opedag met huidige studente gesels en so meer te wete kom oor die instansie se bruisende studentelewe.
Marthiunus Visser, Akademia se besturende direkteur het gaste en voornemende studente tydens die opedag toegespreek.
Elk van die vyf fakulteite het by wyse van interaktiewe inligtingsessies hul programaanbod en -vereistes aan voornemende studente weergegee.